Ons Rovos Rail Wegbreek

By Mooi Leefstyl is hou ons van luukse ervarings en wegbreke.  Ons het bietjie self toeris gehou in ons eie land en het die Rovos Rail trein van Pretoria na Kaapstad geneem en deel graag hierdie besonderse vyf-ster ervaring met jou.  Van die begin af was ons ondervinding uit die boonste rakke waar ons gewag het in Rovos Rail se Pretoria stasie vir die trein om te vertrek.  Ons was behoorlik bederf met lekkernye en sjampanje.  Daar was ook die opsie van koffie, tee en sap indien jy ietsie sonder alkohol wou hê.  As jy bietjie meer wil weet oor die spoorweg industrie dan sal moet jy ‘n draai maak by die Rovos Rail Museum waar ons weg geraak het aan al die antieke stukke en Geskiedenis van Rovos Rail  en die spoorweg industrie in Suid-Afrika.

Die reuk van die Stoomlokomotief en klank van sy toeter vat jou terug na ‘n ander wêreld soos almal opgewonde sit en wag vir die trein om te vertrek.  Ons was verwelkom deur die Algemene Bestuurder van die stasie waar hy vir ons alles mooi verduidelik het oor die toer en almal gemaklik laat voel het.  Hulle het paartjie vir paartjie uitgeroep om hulle gasvrou te ontmoet wat ons vriendelik na ons kamer begelei en die besonderhede vir die rit was in detail vir ons verduidelik.  Elke trok op die trein het sy eie gasvrou wat omsien na al behoeftes en puik diens was gelewer.

Alle kos en drankies is ingesluit en die etes was fenomenaal – Ontbyt is buffet styl vir die koue ontbyt en A’la Carte vir die warm ontbyt, Middag ete is vier-gang maaltyd met ‘n glas wyn wat elke dis komplimenteer.  Vir aandete is vyf-gang maaltyd en boonop is daar middag tee met die lekkerste koeke vir elke palet.   Ons belowe jou, jul sal glad nie honger ly nie en ‘n droë keel sal heeltyd nat gehou word met ‘n drankie van jou keuse.  Die heel agterste trok het ‘n oop dek waar julle kan sit en ook prentjie mooi fotos neem.   Dit is ‘n ervaring om op ‘n oop dek te staan op ‘n bewegende trein.  Jy kan die natuurtonele van Suid-Afrika op ‘n bewegende trein aanskou en die pragtige uitsigte in neem.

Jy het ook jou eie klein ys-kasie in die kamer waar jy jou drankies elke dag kan bestel soos jy dit benodig.  Jy kan ook jou klere laat stryk en was op die trein.  Dit is maklik om te doen deur slegs ‘n vorm in te vul en dit op die bed te plaas.  Ons het al baie getoer en Rovos Rail se diens was vir ons fenomenaal gewees en seker die beste wat ons al ooit ervaar het.

Die kamers word mooi gemaak voor slaaptyd en sjokolade word op jou kopkussing gesit en elektriese kombers word aangeskakel.  Die sag wieg van die trein het ook gesorg vir ‘n lieflike nagrus.

Saterdag oggend het ons verby duisende Flamingo’s gery en die trein drywer het spesiaal stadiger gery sodat alle gaste hul fotos in fokus kan kry.  Ons het afgeklim by Kimberley stasie waar ons toe per toerbus geneem was en ‘n begeleide toer by Kimberley se Groot Gat gehad het.  Sondag het die trein vyf kilometer voor Matjiesfontein stasie gestop en die gaste wat wou kon loop na die stasie.  Die trein het dan by die Karoo dorpie se stasie gestop.  Die gaste wat wou afklim kon deur die klein-dorpie loop en die wat nie wou nie, het ‘n heerlike tee geniet in die sitkamer.

Ons het die rit van Pretoria na Kaapstad geneem, maar daar is ook die opsies van die Victoria WatervalleDurban Safari9-dae Golf Safari asook ‘n Namibië Safari en dan ook ‘n 15 dag trans-Afrika treinrit tussen Kaapstad en Dar es Salaam op een van die mees bekendste treine ter wêreld.


Artikel Krediet

  • Kopiereg van fotos voorbehou deur ©Vorsprung Studio