Koffie met Reandi Grey

Meeste van Mooi Leefstyl se lesers sal haar herken as Esti Fouche van 7de Laan op SABC 2.

Ons by Mooi Leefstyl was bevoorreg om ‘n onderhoud met Reandri Grey te voer en meer van die talentvolle dame te leer.  Sy deel graag met ons haar antwoorde op ons vrae en ons is opgewonde om die vreeslike mooi fotosessie van Reandi Grey met ons lesers te deel.

Blaai deur die fotos onder en lees Reandi Grey se antwoorde om sodoende die pragtige dame beter te leer ken.

Wat was die inspirasie vir die fotosessie?


Elri, Because Life Photography, het my reeds aan die einde van 2016 genader om saam aan ‘n fotosessie te werk toe ek my eie besighede begin het.  Sy het iemand gesoek om model te speel en in ruil daarvoor kry ek professionele foto’s wat ek dan kan gebruik as bemarking. Eintlik wou ons sommer net bietjie speel en iets mooi maak om daar buite te plaas…!

Ons skedules was egter te vol en toe ons weer in 2017 oor die sessie praat, het ek pas die rol in 7de Laan gekry.  Sy het toe besluit om dit in ‘n gestileerde portret-sessie te verander, en het al die verskeie verskaffers betrek.

Wie is Reandi Grey by die huis?


Reandi Grey hou van gemaklik wees. 🙂  Alhoewel ek ‘n grimeerkunstenaar is, sal ek nie ‘n kans laat verby gaan om self geen grimering hoef te dra nie, en ‘n lekker pantoffel is nooit te versmaai nie.  Ek vrek oor mense; my man, familie en vriende is my versterkers.

Maar ek kort ook my eie-tyd.  In my eie tyd sal ek gaan draf, verf, boek lees, of musiek luister.  My besighede hou my ook baie besig.  Wanneer ek nie by die Laan is nie, is ek besig met ontwerpe of grimering.

Jy is ‘n “nuwe” gesig op 7de Laan, vertel ons bietjie meer van jou rol?


Esti is ‘n mens wat elke dag leef asof dit die laaste is, en skrik vir niks nie. Sy is ’n a-tipiese, vrydenkende persoon wat alles in haar lewe met uiterste toewyding en passie uitvoer.  Daar is een baie belangrike element in haar lewe wat haar dryf om ’n sukses te maak van alles wat sy doen…daarvan sal julle nog uitvind!

Waar het jy grootgeword en wat wou jy wees toe jy klein was?


Ek het groot geword in Pretoria.  Ek wou nog altyd ’n aktrise gewees het.

Wat of wie inspireer jou om ‘n beter mens te wees?


My ouers. Hulle is die mees fenomenale mense wat ek ken.  Hulle is altyd geduldig, liefdevol, motiverend en gemotiveerd, sag, altyd die minste, en het ‘n besonderse verhouding met die Here.  As ek ’n knapsie soos hulle kan wees, en die huwelik kan hê wat hulle het, sal ek myself as suksesvol beskou.

Noem een ding wat jou ontstel?


Onregverdigheid is ongelukkig een ding wat deel van die lewe is; Maar dit maak my hart so ongelooflik seer wanneer mense wat wel in-staat is om te help, nie help nie.  Of dit nou is om iemand by die trap op te help, of finansieel te ondersteun… van klein tot groot dinge.  Ons is gemaak om mekaar lief te hê en gelukkig te maak op aarde, en ek dink ons doen dit te min.

Het jy ‘n stokperdjie waarvan min mense weet?


Ek is mal daaroor om aktief te wees: hardloop; visvang; bungee; toer ens.  Ons is ‘n baie aktiewe gesin.  My pa, ma, en sussie geniet almal ‘n Saterdag-wedloop vreeslik.  My ma stap, terwyl ek, my pa en sussie hardloop.  Dit is die grootste seëning om so aktief saam met jou familie te kan wees.  Ek geniet skilder en verf ook baie. Spesifiek om mense te verf, omdat daar ‘n emosionele element is wat betrokke is.

Eerste herinnering van toneelspeel?


My heel eerste dag op stel by die Laan was vrek lekker…totdat ek my heel laaste toneel van die dag gemis het.  Ek het die “callsheet” verkeerd verstaan, en met groot opgewondenheid almal gegroet en gesê ek sien hulle môre.  So 2 ure later ontvang ek ‘n oproep om te vra waar ek is – en ek sit toe reeds rustig by die huis in Pretoria!  Nodeloos om te sê hoor ek nogsteeds elke dag dat ek op my eerste dag “ge-bunk” het. Ek ontgroen myself sommer!  🙂

Vanwaar die liefde gekom vir toneelspeel?


Op Laerskool was ek besonders skaam en ek het besluit om drama-klasse te begin neem om selfvertroue te bou.  Dit het my net een klas geneem om te besluit dít is wat ek wil doen vir die res van my lewe.  Ek was onmiddellik verlief op alles van drama.  Ek het vir die eerste ruk meestal mans rolle vertolk by Eisteddfods, want ek wou myself dwing om uit my gemaksone te kom en van al my skaamheid ontslae raak (Faan se trein was my gunsteling).

Die gevoel van ongemaklik wees, ten einde gemaklik te kon wees was verslawend.  Ek glo dit het grotendeels bygedra tot die mens wie ek vandag is.  Probeer alles, doen alles, sien alles, ervaar alles, maak nie saak hoe moeilik, of hoe groot, of vreesaanjaend dit lyk nie.  Sukses lê in die onbekende, en om daar te kom moet jy bereid wees om uit jou gemaksone te klim.

Artikel krediet