Wegbreek-naweek na Wildehondekloof buite Oudtshoorn

Ons was genooi na Wildehondekloof genooi om ‘n naweek by hulle te kom kuier in Oudtshoorn.  Dit was so lekker gewees, dat ons sommer net daar wou bly en ‘n kantoor bou onder teen die rivier.

Toe ons die Vrydag middag by Wildehondekloof arriveer was ons verwelkom deur bokkies op die gras reg voor die akkommodasie.  Jy word verwelkom deur die vriendelike ontvangsdame met ‘n welkom drankie terwyl die portier jou tasse na jou suite toe neem.

Daar is verskillende wilde diere te sien by Wildehondekloof insluitende die Eland, Ribbok, Berg Ribbok, Vaalribbok, Klipspringer, Kudu, Gemsbok, Rooi Hartbees, Blou Wildebees, Swart Wildebees, Nyala, Burchell se Sebra, Blesbok, Impala en ook Springbokke.

Wildehondekloof het agt luukse suites met volledige badkamers en lugreëling.  Daar is ook 1 Privaat presidensiële kamer met ‘n koning grootte bed en ‘n privaat sitkamer met ‘n kaggel en privaat stoep wat oor die berge en rivier uitkyk.   Daar is ongelukkig nie yskaste in die kamers nie, maar dit is verstaanbaar omdat Wildehondekloof so afgeleë is dat hulle nie ‘n sterk krag voorsiening het nie.  Ons is seker as jy iets belangrik in ‘n yskas moet hê dat jy die sjef kan vrae en hulle dit moontlik vir jou kan stoor.

Wildehondekloof strek oor 4 000 hektaar en is die perfekte wegbreek plek as jy as paartjie of familie net bietjie wil wegbreek en die stilte van die bosveld en wilde diere wil geniet.

Alhoewel ons aanbeveel dat jy net op die plaas bly en elke sekonde geniet en die mooi omgewing om jou inneem is daar ook baie aktiwiteite in die omliggende area.  Ons wou graag Prins Albert toe gaan vir ‘n rit, maar die Swartberg pas was ongelukkig gesluit daardie dag.  Dit het ons nie omver gegooi nie en het sommer na die Kango Grotte gegaan.  Die Kango Grotte moet definitief op jou lys van dinge wees om te doen wanneer jy in die area is.

In die oggende word ontbyt bedien en hopenlik soos ons ervaar het, sien jy die bokkies op die gras voor jou terwyl jy eet.  Dit is regtig ‘n prentjie mooi uitsig om te aanskou.  In die middag en aande is daar ook spyskaarte wat deur die sjef opgestel word.  Spyskaarte wissel en kan aangepas word op die dag.  Daar is ‘n heerlike pizza oond buite op die stoep en braai geriewe waar Wildehondekloof se sjefs vir jou heerlike braaivleis sal braai.  Wat is dan nou lekkerder om braaivleis te kan geniet, sonder om dit self te braai.

Daar is ook wildritte begelei deur ‘n gids beskikbaar vroeg oggende en sonsak waar jy Wildehondekloof se bok spesies van nader kan aanskou.  Ons is mal oor die oggende opsie, net omdat dit ‘n goeie begin vir die dag sal wees en ons eerder ‘n skemerkelkie sal geniet by sonsak voor ons maaltyd.

As jy nie een is vir wildritte nie en eerder ‘n bietjie wil loop om oefening te kry en om die natuur van nader te aanskou kan jy so maak.  Daar is begeleide toere beskikbaar en ook self loop wandel padjies wat jy kan stap.   Bergfiets liefhebbers kan ook hulle fietse saambring en bietjie op hulle fiets roetes ry.  Bevestig net voor jy boek of die fietsry roetes wel oop is vir die publiek.

Hulle het drie verskillende verblyf, ontbyt en aandete pakkette beskikbaar, so maak seker jy kontak Wildehondekloof om jou volgende wegbreek te beplan.

As jy lus is vir ‘n bietjie avontuur dan boek jy ‘n paar nagte by Wildehondekloof en ook sommer by De Zeekoe, slegs 30 km vanaf Wildehondekloof as jy die grondpad neem.

Artikel krediet