Ons besoek Tsala Treetop Lodge in Plettenbergbaai

Tsala Treetop Lodge is geleë tussen Knysna en Plettenbergbaai en is seker een van die vyf-stêr hotelle in Suid-Afrika met die beste uitsig.  Dit is die perfekte luukse wegbreek plek vir paartjies of families wat opsoek is om iets anders as die normale hotel te beleef.

Ons het al in baie hotelle gebly en het verskillende vlakke van dienslewering ervaar;  Tsala Treetop Lodge is definitief in ons top drie lys van dienslewering.

Dit was ‘n vyf en half uur ry vanaf Kaapstad tot by Tsala Treetop Lodge.  Ons was so vriendelik en professioneel verwelkom dat ons skoon vergeet het van ons lang rit.  Ons het onmiddellik welkom gevoel en was gereed om te ontspan en ons tyd by hierdie unieke wegbreek plek te geniet.  Soos jy loop na die ontvangs is jy omring deur bome, plante en water.  Al wat jy hoor is die getjilp van die voëls.

Die Afrika geïnspireerde argitektuur, dekor en die hout, steen en glas struktuur gee vir jou daardie binne, buite gevoel en laat jou een voel met die natuur buite.  Hulle is vyf stêr gegradeer deur die Tourism Grading Council of South-Africa.

Hulle het 10 privaat suites wat een slaapkamer het en 6 villa’s wat twee slaapkamers het.  Al die suites en villa’s sluit in gratis Wi-Fi, kaggels, haardroër, kluis, handdoeke, pantoffels, sambrele, port, wasgoed en stryk dienste, volle mini-kroeg, tee, koffie maak fasiliteite en ondervloers verhitting asook lugversorging.  Dit is net van die luukshede wat jy kan verwag by Tsala Treetop Lodge.  Ons sal definitief die uitsig ook hierby sit, want nie alle hotelle kan sê hulle het so ‘n mooi uitsig nie.   In die hoofgebou is daar ook ‘n klein biblioteek as jy wil ontspan met ‘n boek, daar is ook ‘n klein geskenk winkel as jy opsoek is na ‘n geskenk of iets om jou wegbreek by Tsala Treetop Lodge te laat onthou.  Daar is baie buite areas onder die bome om te sit en ontspan.  Skop jou skoene uit en wees lekker gemaklik.

Ons het in Suite Nommer Een gebly en dit is ‘n vreeslike mooi en rustige loop op ‘n hout brug vanaf die ontvangs na jou Suite toe.  Megan het ons mooi gewys presies wat waar is in ons suite en daar was ook ‘n bottel wyn en vingerhappies om ons te verwelkom.  Klein detail soos dit is wat ons wegbreek by Tsala Treetop Lodge ekstra spesiaal gemaak het.  Ons het sommer onmiddellik in ons swemklere gespring en in die swembad afgekoel met ‘n heerlike glas wyn en ‘n uitsig wat jy definitief nie elke dag sal sien nie.

Elke suite het ‘n privaat swembad en hout dek waar jy lekker in die son kan lê en boeklees of net die natuurlewe om jou geniet.

Ons suite het ‘n ruim leefarea gehad met ‘n groot balkon wat uitloop en oor die woud kyk voor jou.  Dit is iets wat jy slegs in persoon vir iemand kan verduidelik.  Dit is regtig soos iets uit ‘n sprokie.  In die leefarea is ‘n klein mini-kroeg waar jy al die nodige dinge het soos koffie, tee, melk, ketel, klein yskas en glase.  Die banke is so gemaklik en dit was heerlik om net agteroor te lê en net die mooi uitsig en stilte van die natuur in te neem.  Daar is ook ‘n kaggel met hout in die suite gewees, perfek vir ‘n winter wegbreek.

Die kamer het ‘n groot Koning grootte bed en het ‘n groot ruit wat ook uitkyk op die woud.  Dit voel amper of die kamer buite is, omdat dit glas om die hoek van die kamer vou.

Elke suite is baie privaat en jou voor dek waar die swembad geleë is, kan toe maak met ‘n hout hek vir ekstra privaatheid.

Vanuit die kamer loop jy in ‘n massiewe badkamer in met ‘n losstaande bad in die middel en die mooiste koper krane wat uit die donkerbruin houtvloere opstaan oor die bad.  Die gebruik van klip, glas en hout in die badkamer laat jou voel of jy in ‘n luukse boomhuis bad.  Jy het ook ‘n privaat buite-stort onder die bome in die buitelig.  Dit is definitief iets waarvan jy gebruik moet maak wanneer jy by Tsala Treetop Lodge kom ontspan.

Alhoewel Tsala Treetop Lodge omring is deur natuurlewe en vreeslik baie mooi bome wat jou somme onmiddellik in ‘n vakansie gevoel plaas is hulle nogsteeds baie sentraal geleë en naby baie aktiwiteite wat jy in die area kan geniet.  Die Tuinroete in die algemeen is vreeslik mooi en het baie plekkies om te gaan en beleef.  Dit is lekker om een met die natuur te voel en daar is min plekke soos die Tuinroete om dit te doen.

Ons het aandete geniet op ons eerste aan by Tsala Treetop Lodge.  Dit was ‘n lekker warm aand gewees en ons was bevoorreg om buite onder die bome te sit en die laaste bietjie van die sonsondergang te geniet.

Op die plaas waar Tsala Treetop Lodge geleë is, wat deel is van Hunter Hotels is daar nog ‘n restaurant genoem Zinzi.  Ons het nie daar geëet nie, maar het wel na hulle spyskaart gaan kyk en dit het heerlik gelyk.  Op ons volgende besoek aan Plettenbergbaai sal ons definitief ‘n ete gaan geniet by Zinzi.  Dit kyk uit oor ‘n groen grasperk en pragtige dam.  Pak vir jou stapskoene in en geniet ‘n heerlike stappie op Hunter Hotels se gronde en geniet die verskillende plante en ook diere wat jy op jou pad sal sien.



Maak ook ‘n by Hunters Country House as jy ‘n tydjie het.  Dit is hulle ander hotel wat ook stapafstand vanaf Tsala Treetop Lodge geleë is en net so mooi is.  Dit het ‘n hele ander gevoel en jy sal amper nie glo dit sit op een plaas nie.

Tydens ons besoek het ons ook Monkeyland en Birds of Eden besoek.  Lees meer daaroor binnekort op Mooi Leefstyl.

Artikel krediet: