‘n Naweek wegbreek by Witklip Gasteplaas

Ons het ‘n naweek by Witklip Gasteplaas gaan kuier weg van die stad se gejaag net so sewe kilometer buitekant Moorreesburg.  Dit is die perfekte plekkie om jou vriende of familie te neem as jy opsoek is na ‘n heerlike plat-op-die-aarde plaas wegbreek.   Ons was verwelkom deur gasvrou en eienaar van Witkip, Ronelle, wat ons ‘n vinnige agtergrond gegee het van die bestaan van Witklip Gasteplaas soos mens hom vandag ken.

Om te dink dit was ‘n verlate en vervalle plaashuisie gewees sowat 20 meter vanaf die hoofhuis, wat Ronelle en Moller reg gemaak het vir hulle gaste om in te kom bly, omdat hulle nie genoeg spasie gehad het in die hoofhuis nie, na hulle so verbou het dat hulle vier slaapkamer huis ‘n twee slaapkamer geword het.  So ‘n tydjie daarna het Witklip Gasteplaas se Withuis meer en meer populêr begin word en gegroei het tot waar hy vandag is.

Die huis het twee slaapkamers met dubbelbeddens, ‘n kamer met ‘n enkelbed en dan ‘n vierde slaapkamer met drie enkelbeddens in. Daar is een badkamer met ‘n stort, wasbak en toilet wat geleë is in die middel van die huis, so binne maklike bereik van almal.

  

In die kombuis is daar ‘n gasstoof, mikrogolf en yskas.  Die kombuis is lekker ruim en het ‘n dubbel deur wat uitloop op ‘n stoepie langs die swembad en lekker groot buite-braai met ‘n uitsig van die graan- en Kanola lande wat die plaas omring.

Alhoewel daar ‘n buite braai is, is daar ook ‘n binne braai wat gebruik kan word as ‘n braai of ‘n lekker groot kaggel op die koue winters aande in die platteland.  Meeste lig word voorsien deur paraffienlampe en kerse wat verskaf word.  Dit is mos hoe jy ‘n vakansie in die platteland wil hou.  Daar is wel bedliggies in die kamers en die kombuis en badkamer het ordentlike dak ligte wat lekker helder is plus kragproppe om jou foon te laai, indien jy foon regtig nodig sal hê.  Om eerlik te wees ons het skoon van ons fone vergeet, want ons was te besig gewees om bordspeletjies wat in die kas gevind was te speel langs die heerlike braaivleis vuur.

Mens kry min Winter wegbreek plekkies in die Wes-Kaap. Daarom is ons baie opgewonde om Witklip Gasteplaas nou met jou te deel net in tyd voor die Winter kom.  Ontspan in hulle Kol Kol-houtvuur verwarmde swembadjie wat buite geleë is op die stoep.  Die buite braai is ook binne strek afstand van die swembad, so jy kan sommer jou potjiekos of braaivleis dophou vanuit die swembad.  Dubbel bonus! In die Somer hoef jy nie die swembad te verhit nie en kan dit ‘n lekker afkoel plek wees.  As jy kinders het neem kennis dat die swembadjie nie omhein is nie, so jy sal ‘n ekstra ogie moet hou oor die kinders.

Witklip Gasteplaas is nie troeteldier-vriendelik nie, maar daar is wel die plaas se eie katte, wat jou baie liefde sal gee gedurende jou kuiertjie.

Vir ons is Wilklip Gasteplaas die perfekte wegbreek plek, want dit is nie te ver uit die stad uit nie, maar ook ver genoeg om die rustigheid van die plaas te geniet.  Dit is ook lekker sentraal geleë en is maklik om uitstappies te doen vir die dag na Riebeeck-Kasteel, Darling, Koringberg en Piketberg.  Daar is baie oulike klein dorpies in die area wat baie vermaak verskaf.  Anders kan jy net in jou gemak klere by Witklip Gasteplaas bly en boek lees op die stoep of lekker sit en ontspan in die verhitte swembadjie.