Ons geniet ‘n naweek by Belmond Mount Nelson

Die Belmond Mount Nelson Hotel is ‘n instelling in Kaapstad en een van die plekke wat jy moet besoek as jy in die Kaap kuier of as jy ‘n inwoner hier is.  Die hotel is ‘n paradys in die hartjie van die Moederstad geleë in die Gardens woonbuurt reg oorkant die Kaapstad se tuine.  Jy sal dit nie mis ry nie, die statige hoë wit mure en ingang met hoë palmbome van Palm Rylaan na die ontvangs van die Belmond Mount Nelson Hotel is beslis iets wat jy minstens eenkeer in jou leeftyd moet ervaar.

Ons was genooi vir ‘n naweek wegbreek by die Belmond Mount Nelson Hotel, Kaapstad se luukse en wêreld bekende Pienk hotel.  Die hotel is geopen op 6 Maart 1899, wat die Belmond Mount Nelson een van die oudste hotelle in Suid-Afrika maak.  Die hotel was ook die eerste in Suid-Afrika met lopende koue en warm water en het deur die jare die plek geword vir bekendes om te kom en ontspan.  Van die bekendes sluit in Winston Churchill, John Lennon,  Nelson Mandela en vele ander.  Die vyfster hotel is definitief al vyf sy sterre werd en merk al die boksies op ons lys vanaf vriendelike dienslewering, professionele werknemers, luukse afwerkings in die publieke areas asook die kamers en hulle kos is van die hoogste gehalte.

Vanaf 5 April 2018 tot 31 Oktober 2018 het die Belmond Mount Nelson Hotel ‘n spesiale aanbod genoem die Epicure, slegs beskikbaar vir Suid-Afrikaanse burgers.  R 4 100 per nag, insluitende ontbyt vir 2 mense en ‘n vyf-gang aandete by die Sjef Tafel restaurant in die hartjie van die hotel se kombuis.   Klik hier om meer inligting oor die Epicure aanbod, asook die terme en bepalings.  Boek jou plek sommer dadelik vir ‘n romantiese wegbreek of as jy trou gedurende hierdie maande, kan jy ook ‘n heerlike wittebrood by hierdie koloniese hotel geniet.

Lees meer oor ons persoonlike naweek wegbreek by die ikoniese Hotel:

As jy ‘n vriendelike verwelkoming kry by die inry slag by die sekuriteit, voel jy sommer onmiddellik welkom.  Dit was presies hoe dit by die Belmond Mount Nelson Hotel was.  Die oomblik wat jy in ry na die ontvangs deur die hotel se bekende Palm Rylaan, verdwyn die stad se gejaag agter jou en jy ry letterlik na ‘n paradys van ontspanning en ‘n naweek van luuksheid.

Ons het in ‘n een-slaapkamer Deluxe Suite gebly vir die naweek en was baie verras oor die grootte van die suite en ook die uitleg daarvan.  Jy kry min hotel suites groot genoeg vir paartjies wat hou van ekstra spasie en luuksheid.  Moet nie eens begin met dié badkamer nie, dit is uit die boonste rakke en prentjie mooi. Die marmer gee dit ‘n baie luukse gevoel en weereens die grootte van die badkamer is fantasties.  Daar is soveel aandag in die klein dingetjies soos byvoorbeeld die grond liggies wat vanaf die slaapkamer gaan tot in die badkamer langs die stort, indien jy in die nag wakker word en die badkamer moet besoek sonder om jou metgesel wakker te maak.  Die suite het ‘n groot ingangsportaal met ‘n gaste toilet.   Die leef area, spog met ‘n groot sitkamer met ‘n televisie, lessenaar, boekrak en koffie, tee en drankie stasie en ‘n vier sitplek eetkamer tafel.  Ons suite het die mooiste uitsigte gehad oor Seinheuwel en ook van die ikoniese pienk gebou van die Belmond Mount Nelson Hotel.

Ontbyt word bedien in die Oasis Bistro vanaf 6:30 vm tot 11:00 vm en daar is ‘n groot verskeidenheid vars vrugte, oesters, koue vleisie insluitende biltong en droë wors om van te kies  met lieflike yskoue vonkelwyn gratis met ontbyt.

Die Belmond Mount Nelson het die grasieuse groot tuine en bome, perfek om ‘n middag stappie te vat of net langs die swembad te lê en die prentjie mooi uitsig van hulle tuine te geniet.  As jy hou van die natuurlewe dan is dit die perfekte plek vir jou.

Die hotel het twee swembaddens op die eiendom waarvan een oop is vir alle gaste en n tweede swembad geleë by die tuin-huisies wat slegs vir volwassenes beskikbaar is vir n meer private en ontspanne tyd.  Albei swembaddens is effens verhit tot ‘n gemaklike swem temperatuur.

Die Planet Bar is modern, maar het nogsteeds die hotel se klassieke gevoel.  Dit is die perfekte plek vir skemerkelkies voor aandete. Die kroeg area se dekor is ontwerp vir absolute gemak en ontspanning.   Daar is ook ligte etes beskikbaar by die Planet Bar, so dit is nie net ‘n kroeg nie, maar ook ‘n restaurant as jy opsoek is na ‘n minder formele eetplek.

Aandete by die Lord Nelson Restaurant en onder bestuur van Sjef Rudi Liebenberg is niks minder as ‘n ondervinding nie.  Geleë in die hotel se oorspronklike skryfkamer.  Die eikebome panele is die oorspronklike muurpanele van die Admiraal Nelson.  Die restaurant is oop vanaf 18:30 nm tot 22:30 nm en is gesluit op Sondae.

‘n Besoek aan die ikoniese Hotel is nie voldoende sonder die bekende middagtee nie, ons het self ‘n heerlike middagtee met baie soet en southappies geniet. Dit was so ongelooflik dat ons aandete moes verby hou. Ons besoek baie vyfster en luukse hotelle en kan sê dat die Belmond Mount Nelson Hotel se middagtee beslis een van die top in Suid-Afrika is.  Hulle middagtee het twee sessies, vanaf 13:00 nm tot 15:00 nm en dan weer vanaf 15:30 nm tot 17:30 nm.   Ons het in die Herfs middag son gesit onder die bome op die stoep.  Hulle het redelik baie soet opsies by die middagtee insluitende melktert, kaaskoek, skuimpies en Turkse lekkers.  Jy kan self jou tee kies om saam met die soet en sout te gaan of jy kan jou professionele kelner/in vra om iets aan te beveel.  Dit is presies wat ons gedoen het en ons was glad nie teleurgesteld met wat ons gekry het nie.   Klik hier om na hulle middagtee spyskaart te kyk.

As jy opsoek is na iets bietjie meer avontuurlustig, dan moet jy definitief ‘n tafel boek by hulle sjef-se-tafel.  Hulle sjef-se-tafel is bietjie anders as waaraan ons gewoond is.  Om by die sjef-se-tafel te kom, moet jy deur die werkende kombuis gaan waar sjefs besig is om kos voor te berei en dit gee jou ‘n agter die skerms gevoel van wat in ‘n hotel se kombuis gebeur. Die sjefs sal ook met jou kom gesels gedurende jou aandete en jy sal ‘n goeie in diepte inleiding kry oor presies hoe dinge werk in die Belmond Mount Nelson Hotel se kombuis.

Laaste maar nie die minste nie, hulle bekende Librisa Spa is ‘n oase waar jy kan ontspan en vergeet van enige stres wat jy mag hê.  Die spa het ‘n Stoombad en Finse sauna, agt groot behandel-kamers insluitend twee paartjies behandel-kamers, spat-swembad en hulle het ook ‘n konservatorium met die lieflikste kruie tee seleksie.

Vir meer inligting oor die Belmond Mount Nelson, klik hier om hulle webtuiste te besoek.  Volg hulle op sosiale media: Facebook, Instagram en Twitter.  As jy nie elektronies wil kontak maak nie, maar eerder met iemand wil gesels, kontak die hotel by 021 483 1000.

Artikel Krediet: