Besonderse aandete deur Sjef Santi gepaard met Windfall Wines

In die Hartjie van Kaapstad se Middestad is Sjef Santi se groot woonstel geleë waar hy gasheer speel en ‘n Sjef is aan gaste wat opsoek is na ‘n aandete ervaring anders as by ‘n gewone restaurant.  Sjef Santi het regoor die wêreld in top restaurant gewerk en ook onder Michellin ster sjefs gewerk wat gehelp het om Sjef Santi so goed te maak soos hy vandag is.

Ons wil eers begin om baie dankie te sê aan Windfall Wines wat ons genooi het na die wynparing en lip-lek-lekker kos wat Sjef Santi bedien het.  Die konsep is iets uniek en definitief een wat jy moet ervaar as jy in Kaapstad is.   Sjef Santi het ‘n groot woonstel in ‘n ou gebou in die middel van Kaapstad.  Die hoë plafon skep die gevoel van ‘n dubbel volume en die ruimte gee dit ‘n baie New York gevoel.

Op pad op het ons in ‘n outydse hysbak wat jy die deur nog met die hand moet toe maak gegaan na die derde vloer waar ons verwelkom was deur Sjef Santi.  Die oomblik as jy instap voel jy tuis.  Ons het ‘n glasie Windfall Wines vonkelwyn gekry as ‘n welkom drankie en daarna lekker gesels met die res van die gaste wat daar was vir die aand.

Saam met die Windfall Mendola MCC het ons heerlike vingerhappies gekry wat ingesluit het Mossel in ‘n pikant smoor, Spinasie omelette met truffel olie en Velouté met Sampioen, filodeeg bedek met ‘n Knopiesampioene en Swart truffel olie.

As voorgereg het ons ‘n heerlike Garnale Kelkie gekry wat opgestop was in ‘n uitgeholde Tamatie.  Jy lees reg ja!  Dit was iets anders, maar vreeslik lekker gewees.  Die voorgereg was gepaar met Windfall se Sauvignon Blanc.

As tweede gereg was ons ‘n Krap, Stokvis en Kaviaar in ‘n Room Uie Sous bedien wat gepaar was met Windfall se Chenin Blanc.  Die Chenin Blanc was effens gehout gewees wat die uie smaak van die gereg mooi gekomplimenteer het.

Daarna het ons ‘n Chorizo slaai gekry wat bedien was met ‘n heerlike glas Windfall Grenache Rose.  Grenachse is baie populêr deesdae.

Ons het toe ‘n palet reiniger gekry wat definitief iets nuuts was vir ons. ‘n Tamatie gazpacho met The Hunter potketelbrandewyn.   Toe ons hoor daar is brandewyn in die sop, kon ons nie help om te bewonder hoe dit gaan proe nie.  Sop met brandewyn in?   Dit was heerlik gewees.

Die hoofgereg was ‘n Kwartel met baba-aartappels en groente in ‘n wyn jus wat gepaar was met Windfall se Barrel 41 rooiwyn.

Laaste, maar definitief die hoogtepunt van die aand en ‘n eerste keer wat ons dit persoonlik self in Suid-Afrika beleef het.  ‘n Nagereg kunsstuk uitgesprei oor ‘n massiewe veertien sitplek vierkantige tafel waar die gaste in afwagting na Sjef Santi se nagereg kunsstuk gekyk het soos hy ons die storie agter die nagereg kunsstuk wat hy besig is om te maak.

Dit het alles begin met Sjef Santi wat gesmelte sjokolade oor die tafel uit begin gooi op ‘n gesteriliseerde tafeldoek wat slegs eenkeer per slag gebruik word.  Na die sjokolade gooi hy verskillende soetigheid insluitende skuimpies, bessies en koekie krummels.   ‘n Massiewe handvol Donker Sjokolade Mousse word dan voor elke gas se sitplek geplaas op die tafel wat dan gepaar word met The Hunter Potketelbrandewyn.   Dan terwyl jy die alles eet kry jy ‘n groot Malvalekkers wat reg by jou gebrand word met ‘n vlam.

En dit is presies hoe jy ‘n goeie aand moet af eindig – Op ‘n hoogtepunt.  Ons hoop jy het die artikel geniet en indien jy self by Sjef Santi wil boek, klik hier om na sy Webtuiste te gaan en hom te kontak en jou plek te bespreek by sy volgende ete.  Sjef Santi se Sosiale funksies word gedoen onder sy besigheid naam, Chef’s Table Cape Town.  Daar sal gereeld funksies gedoen word, so hou ‘n ogie op Chef’s Table Cape Town se Facebook blad.

Onthou om ook vir Windfall Wines te volg op Facebook en om hulle Webtuiste te besoek en heerlike wyn te bestel.