Hoe om gemakliker te verhuis

Is jy besig om te verhuis?  Dan sal hierdie artikel die perfekte een vir jou wees.  Ons het ook onlangs verhuis en daar is ‘n paar goed wat jy kan doen om jou lewe ‘n bietjie meer gemaklik te maak.  Om te verhuis is baie stres en baie van dit kan klein bietjie meer vergemaklik word as dinge net meer georganiseerd en vooruit beplan word.

Ons weet daar is mense daar buite wat hou daarvan om op die laaste minuut alles in bokse te gooi en so te trek en helfte van die goed is weg of weet nie waar om dit te vind as jy in jou nuwe huis intrek nie.

Hierdie artikel is spesifiek gefokus op die van julle wat self-trek en nie gebruik maak van ‘n professionele verhuis maatskappy nie.

Baie belangrik:   Kontak jou versekeraar en vind uit hoe enige eise werk indien iets breuk gedurende jou trek.   Baie versekeraars sal slegs uitbetaal as die trek gedoen was deur ‘n professionele en geregistreerde verhuis maatskappy.  Net om veilig te wees, kontak hulle voor die tyd en vind uit.

Hier is ‘n paar idees om jou lewe maklik te maak:

Beplan vooruit en skryf jou plan neer op papier: 

Jy weet jy trek oor ‘n maand of twee, so beplan hoe jy gaan pak en leef in jou huis sonder om te veel ongerief te hê.  Tussen werk, kinders (as jy het), kosmaak, oefening en alles wat met jou leefstyl gepaard gaan, laat dit jou oorweldigend voel.

Maak ‘n lys van alle items in jou huis.  Dit hoef nie in detail te wees nie.  Skryf alles op een lang lys.  Breek die lys op in weke of dae en wat jy wanneer wil pak.  ‘n Lys maak dit ook makliker om te beplan hoeveel bokse jy op ‘n slag moet kry.  Jy hoef nie dertig bokse op een dag te kry as jy net vyf die week nodig gaan hê nie.

Hou net die nodigste uit.  Jy weet hoeveel eetgerei jy benodig, pak al die ekstra goed weg en hou wat jy sal benodig om te kan leef.  As jy goed beplan sal jy die dag voor jy trek alles gepak het en gereed wees om jou trek maatskappy net die bokse en groot meubels te kom uit dra sonder enige rond geskarrel.

Dit gee jou ook tyd om skoon te maak soos jy vertrekke pak.  As jy vandag jou kombuis kaste pak, maak dit sommer skoon en toe.  So op die dag van jou trek kan jy dit net weer skoon maak, sonder om te veel aandag daaraan te gee.

Kry ‘n Spasie in die huis of woonstel waar jy bokse kan stoor: 

Almal het ‘n plek in hulle huis of woonstel wat daai hoek is waar jy niks kon kry om iets te sit nie.  Wel nou gaan daardie hoek jou beste vriend word.  Jy sal daardie hoek benut om solank bokse te begin pak.  As jy ‘n ekstra kamer of vertrek het wat jy nie gebruik nie, nog beter.  Dan kan jy daardie vertrek gebruik vir jou stoor of om goed in te pak.  Dan is daardie die deurmekaar kamer en jou hele huis nie deurmekaar en vol bokse en goed wat rond lê nie.

Merk jou bokse korrek: 

Koop drie kleure penne.  Rooi vir breekware.  Swart vir algemene nota’s.  Groen vir goed wat kos bevat.  As jy met verskillende kleure werk en skryf op bokse maak dit dinge makliker vir jou om te weet wat min of meer waar moet kom.  Onthou om op elke boks te skryf watter area in die huis se goed in die boks is.  Soos kombuis, eetkamer, sitkamer, badkamer ens.  So weet jy watter bokse moet waar gaan.

 Hou breekware wat maklik breek eenkant: 

Kry sterker bokse vir breekware wat maklik breek en draai dit toe in koerant papier of plastiek omhulsel wat jy koop by verhuis maatskappye.  Op hierdie manier weet jy hierdie bokse moet baie versigtig gedra word.

Pak kaste uit waar jy dink niks in is nie:

Moet nie wag tot die laaste week nie.  Pak die kaste uit wat jy dink daar niks in is nie en wil los tot die laaste week; Dit mag vir jou lyk of jy min goed het, maar glo ons, as jy eers begin pak weet jy nie waar jy al die goed gestoor het nie.  Daai dingetjie wat jy twee jaar terug by die markie gekoop het en vergeet het van, jou ou telefoon ens.  Al daardie dinge kom uit.

Verkoop goed wat jy nie meer gebruik nie:

As daar goed is wat jy nie meer gebruik nie, maak dit skoon en verkoop dit aanlyn of in persoon.  Maak net seker as jy die goed aanlyn verkoop en mense dit by jou huis moet kom afhaal dat jy seker is die persoon is wie hy/sy sê hy/sy is.   Moet nooit jou deur oop maak vir iemand wat verdag lyk nie.  Maak ook altyd seker dat daar iemand saam met jou is.  Die beste is om dit die laaste week voor jy trek te doen.  So weet jy die persoon kan nie weer terug keer na jou huis toe nie.

Skenk vir liefdadigheid:

Daar is baie liefdadigheid organisasies wat graag iets, wat jy nie meer wil gebruik nie, wil hê en dit vir iemand anders kan gebruik.  Moenie klere, beddegoed en kos net weggooi nie.  Skenk dit eerder vir mense wat dit kan gebruik.

Artikel Krediet:

  • Teks:  Mooi Leefstyl
  • Foto’s:  Pexels