ʼn Moderne Koffiewinkel in George in die Tuinroete

Ons is super opgewonde om dié moderne koffiewinkel, poco.loco in George in die Tuinroete met jou te deel.  As jy in George omgewing is en opsoek is na fantastiese koffie en lip-lek-lekker kos, dan moet jy by poco.loco inloer.  Hulle bedien ontbyt en middagete gepaard met ʼn koppie-of-drie van jou gunsteling koffie.

Al poco.loco se produkte is van die hoogste gehalte.  Van die plaas melk in die koffie, tot die handgemaakte breekware.  Die heuning uit die Klein-Karoo, organiese hoender van ʼn nabygeleë plaas en die slaaiblare uit iemand se tuin in die dorp.  Hul ondersteun die plaaslike ekonomie 100%.

Mooi Leefstyl is gaande oor die dekor elemente en afwerkings van poco.loco.  Die donker kleurskema werk só mooi saam met die reuke van vars gemaalde koffie bone.  Met tikseltjies bruine en brons gee dit die koffiewinkel ʼn warm atmosfeer en ʼn spasie waar jy jou tyd saam met vriende kan geniet.  Ons het met Stefan Jamneck, stigter en eienaar van poco.loco gesels.  Om meer te lees rol af.

Inspirasie agter die naam poco.loco

Die naam poco.loco beteken “so ʼn klein bietjie mal”!  Dit het een oggend ongeveer 1:30 in my gedagtes op gekom toe ek weereens nie kon slaap nie en besig was met die projek.  Ek het so by myself sit en dink … wie is só mal om in die middel van ʼn pandemie ʼn nuwe projek aan te vat?  Ek besef toe dat elkeen van ons in hierdie “bedryf” maar eintlik ʼn skroef los het!

poco.loco – ʼn Koffiewinkel in George:

Dié koffiewinkel poco.loco is ons vertoonkas!  Ek rooster al vir 10 jaar my eie koffie (Sugarbird Coffee Co) en het al verskeie koffiewinkels van stapel gestuur.  Hierdie keer wou ons bietjie “afshow” en het dit so paar stappies verder geneem met betrekking tot ontwerp, uitleg en konsep.

Die Spyskaart:

Uiteraard is ons koffie (Sugarbird Coffee Co) ons troefkaart, maar as sjef is dit my trots om te kan sê dat ons spyskaart (alhoewel redelik eenvoudig) wel deurdink en alles tuisgemaak is.  Alle brode, soetgoed en lekkernye word in ons eie kombuis gebak en voorberei.  Selfs die spek in die ontbyt maak ons self.  Net die beste bestanddele word gebruik ter voorbereiding.

Probeer hul Eggs Benedict:

Eggs Benedict, presies soos die Franse dit maak. Ons ‘pasteis de nata’ is ʼn sterk tweede plek.  Word daagliks met die hand gevou en vars gebak.  Dis heerlik!

Hoekom moet jy poco.loco besoek?

Dié koffiewinkel poco.loco verleen homself aan ʼn eerste wêreldse stadskultuur, maar behou steeds die gemak van die platteland.

Waar om poco.loco te vind:

Besoek poco.loco by 76 York Straat in George.  Klik vir aanduidings op Google Maps.  Hulle is oop vanaf Maandag tot Vrydag, tussen 07:00 en 16:00.  Saterdae, 08:00 tot 13:00, en Sondae en Publieke Vakansiedae is hulle toe.  Volg poco.loco op Instagram en Facebook.

Artikel Krediet: