Mooo Wools

Die reuse bonkige 100% Merino-wol gebreide produkte van Mooo Wools laat ons hier by Mooi Leefstyl uitsien na ‘n koue en nat Winter, Amarula Koffie en Kaggelvuur.  Beste van alles jy hoef nie eens jou huis te verlaat om jouself met die produkte te bederf nie.  Daar is ook iets vir almal in die hele gesin.  Oeh, ons kan nie wag om onder die knus komberse in te kruip nie en boonop maak dit maklik skoon so daar is plek vir jou pels-kinders ook.

Lees onder gerus meer oor die lieflike produk en word weggeneem deur die fotos.

merino wool blanket merino wool blanket


Wat presies is Mooo en wie is agter die besigheid?

My naam is Estée van der Walt (amper Viljoen).

Ek is oorspronklik ‘n stadsmeisie (en boonop ‘n vegetariër) van Pretoria wat September trou met ‘n skaapboer van die Karoo.  Sy plaas Knoffelfontein is geleë naby die klein dorpie Luckhoff in die Vrystaat.  Hulle familie boer al sedert die 1800’s daar.

Met my eersdaagse oppak en stad vir plaas verruil, het ek met idees gespeel oor wat ek op die plaas gaan doen.  Die Mooo konsep het oornag spontaan haar verskyning gemaak, na ‘n bergklim en uitkyk oor die plaas (en honderde skape) dag in Desember 2016!

Mooo is 100% Merino Wol bonkige hand-gebreide produkte.

Huidiglik is ek bedags ‘n beleggings-spesialis, maar saans vloei my kreatiwiteit en maak ek van my drome werklikheid deur Mooo.

Aanvanklik was dit net ek, maar Mooo is so geliefd, dat ek spoedig ‘n ekstra paar ywerige hande moes inspan.  Vir my is Mooo ‘n wonderlike ontwikkelings geleentheid vir die dames op die plaas.  Mooo is so ‘n spesiale, eg Suid-Afrikaanse projek en nuwe vaardigheid waarop elke dame uiters trots is.

Met ons eerste internasionale verskaffer sopas afgesluit, sal Mooo hopelik ‘n nuwe bydrae tot die klein, relatief onbekende dorpie Luckhoff en sy ekonomie kan lewer.



Waar is julle gebaseer?

Huidiglik is ek nog baie in die week in Bloemfontein vir my ‘8 tot 5’ maar ons is eintlik in Luckhoff, op die plaas Knoffelfontein.


merino wool blanket merino wool blanket


Watter produkte verkoop julle?

Mooo het aanvanklik begin met Komberse  (Baba, deken, dubbelbed, koningin en koning grootte).  Ons loods binnekort ‘n uitgebreide reeks produkte wat onder andere bonkige serpe, matte, kussings, mandjies, baba sakke en nog meer sal insluit.


merino wool blanket merino wool blanket


Hoeveel kos julle produkte?

Produkte in Mooo se reeks se pryse wissel van R800 tot R10,000.


merino wool blanket merino wool blanket


Waar kan ons lesers julle produkte koop?

Mooo kan gekontak word deur ons Facebook blad, Instagram of via e-pos

Mooo is ook aanlyn beskikbaar  by:

of by die volgende dekor winkels:

  • Countrified (Bloemfontein),
  • Splinter (Pretoria),
  • Ninho Interiors (Pretoria),
  • Titch & Bean,
  • BabyCouture

merino wool blanket merino wool blanket merino wool blanket


Wat maak Mooo uniek?

Mooo is een van die eerste 100% Merino Wol bonkige gebreide ontwerpe in Suid Afrika.

Alles van Mooo word met die hand gemaak – elke Mooo word met baie liefde, spesiale aandag en baie uniek vir sy eienaar gemaak. Ons bied gratis versending regoor Suid Afrika en ons verpakking is verseker iets bitter spesiaal.

‘n Paar  unieke eienskappe ook van Merino wol: dit is 3 keer fyner as ‘n mens se hare dus super sag; kan tot 35% van sy gewig in vog absorbeer dus ideaal winter en somer; natuurlike elastisiteit en kreukel dus nie; tydloses elegansie.

Verpakking:

Ons verpakking is ietsie anders – dit dien ook as n baie stylvolle en gemaklike ottoman om jou Mooo veilig en effektief te stoor in die warmer maande, sonder om teveel plek te vat of om hom weg te druk in n kas. Hierdie ottomane sit vreeslik lekker wanneer die Mooo daar binne is, en kan gerus in n leeshoekie of voor die T.V ‘n plekkie kry.

Skoonmaak:

Die 100% Merino wol is van nature vlek en reuk bestand –  die wol is ook allergie vry….dus ideaal vir babas, kleuters en pappas met sensitiewe neusies.

Indien die Mooo skoongemaak moet word kan mens dit kol skoonmaak met n klam lappie en wol-vriendelike seep op die nodige plekke.  Jou Mooo kan ook droogskoonmaak word.

Daar is meer inligting ook op ons Facebook blad beskikbaar.