Bottomless Coffee Band gesels met ons

Wie is Bottomless Coffee Band?


Ons is twee musikante, Lourens en Esté Rabé, wat in ons optredes wissel.  Tussen menigte instrumente om die klank van ’n vol orkes te skep.  Lourens was oorspronklik ’n beleggings-analis. Ek is ’n aktrise voordat ons altwee verlede jaar op die reis van voltydse musikante vertrek het.  Ons is getroud en beskou dit as ’n baie groot voorreg om as man en vrou saam te kan werk.  Aan dit wat nog altyd vir ons altwee ’n groot passie en liefde was.  Wat ’n voorreg om jou passie jou werk te kan noem?  Ons werk onafhanklik en is opgewonde om te sien hoe die onafhanklike musiek industrie groei en floreer.

Hoe het Bottomless Coffee Band begin?


Ek en Lourens het altwee in die Universiteit koor van Stellenbosch gesing; Lourens om saam met sy vriende China toe te kon toer saam met die koor en ek, daarteenoor, om my sang loopbaan te bevorder.  Dit was regtig liefde met eerste oogopslag, alhoewel ons altwee op daardie stadium enkellopend, en baie tevrede daarmee, was.  As gevolg van koor oefeninge, optredes en toere kon ons mekaar baie goed leer ken voordat Lourens my uiteindelik na 6 maande uitgevra het.

’n Week nadat ons begin uitgaan het, moes Lourens saam met vriende by ’n wynplaas gaan optree vir ’n spoggerige geleentheid.  Die groep wat gaan optree het is sommer uit koshuis-vriende van hom aanmekaar geflans.  Hy vra toe vir my om saam te gaan vir “backing vocals”.  Vir die groep om meer professioneel te vertoon het Lourens sommer die naam “Bottomless Coffee Band” gekies en besigheidskaartjies gedruk.  Daarna het hy nog navrae gekry en ons twee was die enigste twee wat bereid was om verder op die musiek paadjie te gaan!

Beskryf julle musiek?


As gevolg van al die verskillende instrumente en ook omdat ons albei sing, is ons musiek baie divers, maar die goue draadjie deur dit alles is definitief “folk” met “rock” en “blues” elemente.  Ons skryf ons eie musiek, maar ons speel ook ’n paar verwerkings van bekende liedjies van kunstenaars wat ons inspireer. ’n Goeie verwysing om te verstaan hoe ons musiek min of meer klink, is die klanke van Johnny Cash, Lumineers, Mumford & Sons en Civil Wars.

Waar kan ons lesers na julle opvoerings gaan kyk?


Ons tree reg oor die land op.  Die beste is om op ons webtuiste te gaan kyk of om in te teken op ons nuusbrief by www.bottomlesscoffeeband.com

Ons sit ook al die inligting van ons optredes op ons sosiale media.  Ons geniet dit baie om met mense in kontak te wees op die verskillende platforms so mense kan ons gerus daar gaan volg.

Hoe en Waar kan ons lesers julle musiek koop?


Alle bestellings van ons musiek kan aanlyn gedoen word (www.bottomlesscoffeeband.com) of natuurlik by ons optredes.  Ons musiek is ook op iTunes.  Ons volgende album sal ook in sekere koffiewinkels te koop wees – ons sal beslis laat weet as dit beskikbaar is!

In julle vrye tyd, Wat hou julle van om te doen?


Ons is baie lief vir goeie kos en lekker wyn en ons vind baie vervulling daarin om plekkies te gaan uitsnuffel waar die bogenoemde die fokus is.  Buiten ons restaurant reise maak ons ook graag kos by die huis en ons hou daarvan om lank om die tafel te kuier met baie kerse en musiek.  Ons is natuurlik baie lief vir koffie en is ook gereeld op soektogte na nuwe koffie hoekies.  Ons fliek en lees ook graag!  As ons eindeloos tyd en geld gehad het, sou ons permanent oorsee gewees het om nuwe lande en kulture te verken!

Wat is julle gunsteling plek sover gewees om op te voer?


Elke plek waar ’n mens optree het sy besonderse bekoring.  Of dit nou ’n klein dorpie vol gasvryheid is of groot stede met interessante mense en besige strate – dis altyd spesiaal!  Dit was wel vir ons besonders om in Nederland en Londen op te tree.  Buiten die kulture wat redelik eenders is, het ons ook paaie gekruis met baie Suid-Afrikaners wat die optredes kom ondersteun het.  Ons sal beslis weer ons vlerke sprei om oorsee te gaan optree.  Ons is egter baie trots daarop dat ons basis die mooie Suid-Afrika kan wees en ons glo dat ons industrie regtig wêreldklas is!

Julle het eens op ‘n tyd by baie troues gespeel, doen julle nogsteeds?


Ons doen nogsteeds en ek dink ons sal nooit ophou nie.  Dit is ’n voorreg om by ’n troue te kan optree.  As musikante het ’n mens die geleentheid om daadwerklik by te dra tot so ’n spesiale en heilige dag.  As gevolg van die diverse groep mense by ’n troue het ons ook al baie kontakte en volgelinge op hierdie manier opgebou.  Ons sien vreeslik baie mense by ons teater vertonings wat ons by troues sien optree het.  Buiten dit alles, is dit baie vervullend om in die trou industrie van Suid-Afrika te werk – die mense is besonders en die standaard funksies wat aanmekaar gesit word deur al die verskillende diensverskaffers is buite hierdie wêreld – dit inspireer ons!

Watter Suid-Afrikaanse kunstenaar sal julle graag wil saamwerk?


Jeremy Loops, Karen Zoid, Mango Groove en Johnny Clegg.

Die goue draadjie tussen hierdie Suid-Afrikaanse kunstenaars is.  Hoe lank en hard hulle werk en gewerk het om groot voetspore in die Suid-Afrikaanse musiek industrie te los.  Hulle groei saam met die tye en maak musiek vir verandering en vir die mense in plaas van net vir hulself.

Hulle musiek het ’n boodskap, maar is ook net lekker-luister en goed-voel klanke.  Dit sal ’n massiewe voorreg wees!

Watter Internasionale kunstenaar sal julle graag wil saamwerk?


Paul Simon!

  

    Artikel Krediet:

    • Die foto’s wat die fotograaf in Dordrecht en Rotterdam, Nederland geneem het tydens ons Europese toer daar:
      Martijn Roos van Martijn Roos Photography (Nederland)