‘n Naweek by die Twelve Apostles Hotel

Ons het ‘n wegbreek geniet na Twelve Apostles Hotel tussen Kampsbaai en Llandudno in die bekende Victoria weg.  Geleë langs die Atlantiese Oseaan met ‘n onbelemmerde see-uitsig is die Twelve Apostles Hotel die perfekte wegbreek plek vir paartjies.

Die aankoms by die hotel


Met die aankoms by die hotel word jy vriendelik verwelkom deur die “porters” en jy word ‘n welkom drankie aangebied.  Jy kan jou motor self parkeer binne loop afstand van die ingangsportaal van die hotel of jy kan slegs voor die deur parkeer en dat hulle jou motor parkeer as deel van hulle valet parkeer diens.

Ons kamer


Ons het in een van hulle Milkwood kamers gebly wat uitgekyk het op die verhitte swembad area en die tuin in die binnehof.  Soos jy instap by die kamer is die badkamer aan die regterkant en die klerekaste aan die linkerkant.  Daar is drie kaste met genoeg hang spasie vir jou klere.  Daar is ook ‘n elektroniese kluis in die kamer indien jy enige waardevolle besittings wil wegsit.

Milkwood kamers


As jy weer by die kamerdeur is.  Loop jy reguit aan en gaan jy die kamer en sitarea binne.  Die kamer het ‘n Koningsgrootte bed in gehad en ‘n groot spieël van grond tot die dak agter die bed.   Die kamer, 313 waarin ons gebly het was redelik mooi gewees en ‘n baie neutrale gevoel gehad.  Daar is ‘n klein koffie hoekie voor die bed met ‘n koffie masjien en ook tee as jy nie ‘n koffie drinker is nie.  Daar is ook ‘n spieëltafel met ‘n telefoon en lampie op.  Die kamer het gratis Wi-Fi asook DSTV.

Die Milkwood kamer waarin ons gebly het was effens knap en bietjie standaard gewees teenoor ander vyfster hotelle waarin ons al gebly het.  Ons beveel aan as jy ‘n luukse wegbreek wil hê, dan moet jy kyk na een van hulle luukse suites of eenslaapkamer suites.  Dit is baie groter en mag dalk ‘n beter uitsig hê.  Mens wil altans nie te veel bespaar as jy ‘n spesiale wegbreek wil geniet nie.

Badkamer


Die badkamer is omring deur spieëls, wat dit groter laat voel as wat dit is.  Daar is ‘n stort, bad en wasbak in die badkamer.  Daar is ook ‘n verhitte handdoek reëling in die kamer.  Die badkamer se grootte is redelik gemaklik as daar een persoon in die badkamer is.  Die stort is bietjie aan die kleiner kant, maar nogsteeds gemaklik.

Kamer se balkon


Die kamer loop uit op ‘n gesellige balkon wat uitkyk op die binnehof en die swembad.  Jy kan so effens ‘n see uitsig hê as dit ‘n mooi sonskyn dag het.

Koel af by die hotel


Daar is twee swembaddens by The Twelve Apostles Hotel, een lekker groot rots swembad en ‘n ander verhitte swembad naby aan die kamer waar ons gebly het.  Die verhitte swembad het ‘n uitsig oor die Atlantiese oseaan waar jy lekker in die son kan ontspan met ‘n skemerkelkie terwyl jy die sonsak lê en bekyk.

Formele Restaurant


Die hotel het ‘n formele restaurant, Azure Restaurant en ‘n meer informele restaurant, The Café Grill.  Daar is ook die Conservatory area as jy opsoek is na iets bietjie meer privaat en net die uitsig in die son wil geniet.  Geniet ‘n drankie saam met jou geliefde, familie of vriende by The Leoapord Bar of  ‘n heerlike tee by die see middagtee hier.

Ontbyt


Ons was baie beïndruk met die ontbyt by die Azure restaurant.  Die verskeidenheid van kos is fantasties van koue vleise tot vrugteslaai en sout en soethappies.  Daar is die heerlikste vars sappe en ook vonkelwyn en medium oesters.  Ons het ‘n pragtige hoek tafel gehad wat oor die see en stoep area gekyk het.  Ontbyt is vir ons ‘n goeie maaltyd om die standaard van ‘n restaurant te sien. Ons kan nie wag om weer eendag gaan eet by Azure Restaurant.

 

Die spa


As jy wil ontspan, geniet ‘n heerlike ontspanning sessie by hulle spa wat ‘n groot verskeidenheid behandelings beskikbaar het vir gaste om te geniet.  Hulle het ook ‘n 9 sitplek bioskoop waar jy ‘n heerlike melkskommel en springmielies kan geniet terwyl jy ‘n fliek kyk.

Bespreek jou kamer


The Twelve Apostles Hotel is slegs ‘n paar minute se ry vanaf die V&A Waterfront en ook Tafelberg en die middestad van Kaapstad.  As jy opsoek is na ‘n wegbreek plek, ver genoeg van die stad om te ontspan, maar ook naby genoeg om Kaapstad en top strande soos Clifton en Kampsbaai te geniet dan is die Twelve Apostles Hotel die perfekte wegbreek plek vir jou.  Klik hier om hulle webtuiste te besoek of kontak hulle by 021 437 900 of per e-pos by reservations1@12apostles.co.za.

    Artikel Krediet: